November 2017 Nuusbrief

Louise
30.06.23 08:27 AM Comment(s)

Die jaar is so te se verby. Dit was ʼn moeilike jaar vir meeste van ons lede met groot uitdagings in die besigheidswêreld, ʼn ekonomie wat sukkel en baie politieke onsekerhede wat dit moeilik maak om besluite te neem en veral oor die medium en langer termyn te beplan.


Wat wel seker is, is dat daar uit enige omstandighede geleenthede ontstaan wat uitstekende potensiaal vir die lede kan ontsluit wat die geleentheid kan sien en vinnig genoeg reageer om dit te benut. Dis nou die tyd om te dink oor 2018 en hoe ons moontlik strategieë moet aanpas om in die nuwe jaar te oorleef en suksesvol te wees.


Wat vir my duidelik is, is dat ons as sakegemeenskap baie meer op mekaar aangewese gaan raak vir oorlewing. Ek doen dan ook ʼn beroep op ons lede om hande te vat, mekaar se besighede te promoveer en te ondersteun en ook nuwe lede in te trek sodat ons ʼn sterk basis kan vestig as spreekbuis vir besigheid maar ook as platform om mekaar in moeilike tye te kan ondersteun.

Naamsverandering van die AHi

Die AHi Nasionaal het onlangs ʼn besluit geneem om weg te doen met die naam “Afrikaanse Handelsinstituut” en dit te vervang met “Small Business Institute”.


Ons by Tygerberg het in beginsel daarmee ʼn probleem. Ons was eerstens nie genoegsaam daaroor gekonsulteer nie en voel ongemaklik met die wegdoen met die sterk identiteit wat oor baie dekades, wyd deur plaaslike- en nasionale regering sowel as die besigheidswêreld geken was.


Die nuwe naam “Small Business Institute” is eksklusief tot klein besighede. Wat doen ons met groot korporatiewe lede soos Sanlam? Hulle is duidelik nie “Klein besighede” nie. Die definisie van ʼn klein besigheid is self problematies en baie mense kan besluit om nie by ons aan te sluit nie bloot op grond daarvan dat hy nie na verwys wil word as ʼn “klein besigheid” nie.


Die AHi Wes Kaap het op 22 November 2017 sy Algemene Jaarvergadering en die aangeleentheid is op die agenda. Ons sal moet besluit of ons as Wes Kaap dit steun en aanvaar al dan nie. Die AHi sukkel op Nasionale vlak. Dr Ernest Messina het bedank as HUB en die finansiële situasie lyk ook nie goed nie. Op streek vlak gaan dit met ons beter en die sentiment blyk tans te wees dat ons waarskynlik ons identiteit as AHi Wes Kaap gaan behou met sakekamers soos Tygerberg wat by AHi Wes Kaap geaffilieer is. Die rol van die nasionale kantoor sal waarskynlik vervaag en moontlik verdwyn. Hierdie is dan ook die sentiment waarmee ons bestuur die AJV sal bywoon.


Ons besluit vroeër die jaar tydens ons eie AJV om voortaan bekend te staan as die “Tygerberg Sakekamer” of “Tygerberg Business Chamber” met affiliasie by die AHi, was dus sinvol en is ons reg geposisioneer midde die huidige moontlike veranderinge. Ek hou julle op hoogte van die uitkoms tydens die AHi Wes Kaap se AJV die week.

Finansies en lidmaatskap


Ons finansies lyk redelik ons bankbalans is rondom R50 000. Ons skuld niemand geld nie en ons lidmaatskap groei stadig maar tog konstant. Huidige opbetaalde ledetal staan op 70.


Ek doen weereens ʼn beroep op elke lid om te poog om net nog 1 ander besigheid as lid te werf. So kan ons lidmaatskap in 2018 gemaklik verdubbel.

Advertensie geleenthede


Ons webtuiste bied die geleentheid aan lede om daar te adverteer teen so min as R500 pm.

Lede is ook welkom om spesiale afslag aanbiedinge vir ʼn medelid aan Adri deur te gee vir verspreiding aan lede. Dit maak tog sin dat ons ’n medelid ondersteun en ook afslag aan mekaar gee wanneer ons onderling besigheid doen.

Op hierdie stadium neem die volgende besighede deel:

  •  TJ Lekka Braai / 10 % afslag op hout, charcoal, blits en roosters – George Ferreira 082 927 1845
  • Supa Quick Brackenfell / Kontak Abrie de Klerk vir ʼn lojaliteitskaart by 083 459 9222
    • Bande 5%
    • Skokbrekers 10%
    • Remme 10%
    • Wielsporing 25%
  • Bolt Risk Management / 10% afslag op maandelikse tarief vir huis- en besigheid Alarm Monitering en Reaksie – Phillip van Zijl 0829045997

   Ons moedig ook lede aan om ons Facebook bladsy te gebruik en medelid daar aan te beveel as jy hulle dienste of produkte gebruik het.

Jaarprogram 2018


  • POTJIEKOSKOMPETISIE
    Datum: 16 Februarie 2018
    Dit is ons eerste funksie in die nuwe jaar. Hierdie geleentheid word baie goed ondersteun en was die afgelope aantal jare elke keer ʼn baie groot sukses. Reserveer die datum en maak seker jy skryf in, nooi jou kliente, verskaffers en personeel om heerlik die middag sosiaal te verkeer en te netwerk met ander lede en hulle gaste.
    Waar: Stellenberg Hoërskool
    Koste: R400 per pot.
    Daar is ʼn springkasteel vir kinders en baie ruimte om te speel.
    Die geleentheid word gekenmerk aan uitstekende pryse en byna almal wat bywoon wen iets. TJ’S Lekka Braai is ons hoofborg met ondersteuning van / Cape Pots / SPAR / Cape Foods / Charl Braai Bruwer.

  • TYGERBERG SAKEKAMER AJV
    Datum: 1 Maart 2017
    Die venue en meer detail sal volg. Reserveer asb. die datum.

  • FUNKSIE MET STAD KAAPSTAD
    Datum: 15 Maart 2018
    Ons bied reeds die afgelope 5 jaar hierdie glansgeleentheid aan in die vorm van ʼn dinee waar ons die Stad Kaapstad uitnooi om met ons te kom praat oor hulle beplanning, begroting en prioriteite vir die finansiële jaar wat voorlê. Dit is deel van ons verantwoordelikheid om skakeling tussen ons lede en Plaaslike Regering te bewerkstellig.

    Die Stad ondersteun ons uitstekend met die geleentheid en stuur jaarliks ʼn hoë vlak afvaardiging om ons toe te spreek. Die afvaardiging van die Stad word gewoonlik gelei deur die Onder Burgermeester, Raadsheer Ian Neilson.

    Old Mutual en Nedbank is ons borge en hulle het reeds bevestig dat hulle vir 2018 weer aan boord is.

    Die beplanning is om die funksie moontlik in samewerking met Durbanville Sakekamer aan te bied en dit dus nog groter te maak as tevore.

    Meer inligting sal vroeg in 2018 bekend gemaak word. Reserveer asb hierdie datum en maak seker jou besigheid is goed verteenwoordig.


  • BRANDEWYNPROE
    Datum: 19 April 2018

    Die Brandewynproe het ʼn jaarlikse instelling geword en dit is ʼn geleentheid wat jy nie wil misloop nie.

    Alwyn Mouton bied dit uiters interessant aan. Dit is ʼn uitstekende netwerkgeleentheid wat elke jaar baie gewild is. Ons het egter net 40 sitplekke. Bespreek jou plek vroegtydig. Dis ʼn baie geskikte geleentheid om daardie een of twee spesiale kliente heen te nooi.

    Nedbank het reeds bevestig dat hulle weer die aand borg.

Feestyd


Dan wil ek julle een en almal ʼn baie geseënde feestyd toewens waartydens ons almal goed sal rus en batterye laai vir ʼn moeilike en uitdagende 2018.


Ry veilig en verkondig die liefde van Christus waar julle ook mag gaan.

Terug na Nuus