Maart 2017 Nuusbrief

Louise
16.08.17 08:03 PM Comment(s)

Die jaar het vinnig afgeskop met ons Potjiekos wat gehou was op Vrydag die 4de Februarie. Dit was soos verwag ʼn baie groot sukses met 30 potte en baie goeie ondersteuning van lede en nie-lede.


Volgende op ons program was die Algemene Jaarvergadering wat op 1 Maart te Hoërskool Stellenberg plaasgevind het. Die opkoms was redelik en ons het ʼn kworum gehad om met die vergadering te kon voortgaan. Die spreker was Mnr. James Vos, die DA Skadu Minister van Toerisme. Sy aanbieding was baie interessant en baie goed deur die gehoor ontvang.


My voorsittersverslag is aangeheg en die finansiële state is by Adri Meadon beskikbaar vir insae deur enige opbetaalde lid.

Ek wil dan met hierdie nuusbrief grootliks terugvoer gee oor besluite wat by die vergadering deur lede geneem is.

Naamsverandering van die sakekamer


Die AHI staar tans op Nasionale vlak verskei uitdagings in die gesig waarvan finansiële druk en ʼn beeld van eksklusiwiteit deel maak. In die lig hiervan het die bestuur gevoel dat die vergadering moet besin oor die naam van ons kamer. Tot dusver het ons ons self bemark as die “AHI Tygerberg Sakekamer” met sterk klem op die AHI.


Die voorstel op die tafel was dat ons voortaan moet bekend staan as die “Tygerberg Sakekamer” of “Tygerberg Business Chamber” met affiliasie by die AHI. Dit verwyder die klem op die AHI alhoewel ons steeds daar affiliasie behou. Dit is in lyn met die “Durbanville Sakekamer” wat ook by die AHI geaffilieer is. Hierdie voorstel is eenparig aanvaar en ons staan dus voortaan bekend as die “Tygerberg Sakekamer/ Business Chamber”.


Die vergadering het ook goedgekeur dat die Grondwet dienooreenkomstig aangepas word.

Verkiesing van nuwe bestuur


Die volgende nominasies is ontvang om op die bestuurskomitee te dien:

Phillip van Zijl, George Ferreira, Bjorn Harmse, Eben Keet, Annelize van Zyl, Sunel Beeselaar, Zelna Hadlow en Jacobus van Niekerk

Annelize van Zyl het die nominasie van die hand gewys en aangedui dat sy nie weer beskikbaar is nie.


Phillip van Zijl en George Ferreira is onderskeidelik as Voorsitter en Onder Voorsitter genomineer.


Geen ander nominasies vir die poste is ontvang nie. Dit het ons met ʼn dilemma gelaat aangesien die Grondwet bepaal dat ʼn persoon nie meer as twee termyne in die posisies van voorsitter en onder-voorsitter kan dien nie, tensy die lede dit by die AJV sou goedkeur.


Piet Badenhorst het ʼn voorstel ingedien dat die vergadering goedkeuring gee dat die twee here vir nog ʼn termyn as voorsitter en onder voorsitter kan dien. Die vergadering het dit eenparig so goedgekeur.


Aangesien daar geen ander nominasies was nie is die genomineerde lede outomaties verkies om die onderskeie poste te vul. Die komitee vir 2017 bestaan dan uit:

  • Voorsitter – Phillip van Zijl (Bolt Risk Management)
  • Onder Voorsitter – George Ferreira (TJ’sLekkabraai)
  • Tesourier – Eben Keet (Titan Financial Services)
  • Sekretaris – Sal uit addisionele lede verkies word
  • Addisionele lid – Bjorn Harmse (Laubscher & Hattingh Prokureurs)
  • Addisionele Lid – Zelna Hadlow (Capitec Bank)
  • Addisionele Lid – Sunel Beeselaar (SP Beeselaar Prokureurs)
  • Addisionele Lid – Jacobus van Niekerk (Azapi Online Marketing Agency)

Veels geluk aan die nuwe komitee en veral aan Sunel en Zelna wat vir die eerste keer op die komitee dien.

Finansies en lidmaatskapgelde


Ons finansies lyk redelik. Ons het die jaar geëindig met ʼn verlies van R6 644 wat so twee duisend rand beter is as die vorige finansiëlejaar. Met jaareinde het ons so R16 500 in die bank gehad en op die dag van die vergadering het ons balans op R41 000 gestaan.


Alhoewel ons kontantvloei onder druk is, kom ons, ons maandelikse verpligtinge na. Die besluit om Adri Meadon as Admin Beampte aan te stel werp nou vrugte af en ons is darem in staat om ons dag tot dag verpligtinge na te kom. Haar salaris het egter ʼn redelike verhoging in ons uitgawes veroorsaak.


Dit is egter belangrik dat ons finansiële posisie verbeter sodat ons die waardeproposisie wat ons aan lede bied kan verbeter. Ons kan dit doen deur suksesvolle funksies wat ons reeds doen en deur groei in ledetal en moontlike aanpassing in lidmaatskapfooie. Die afgelope jaar het ons R58 000 se inkomste gehad uit lede funksies teenoor R36 000 uit ledegeld.


Daar was ʼn voorstel uit die vergadering dat ons ons lidmaatskap fooie moet aanpas aangesien ons in die afgelope 4 jaar geen aanpassing gehad het nie. Die voorstel is gedebatteer en ʼn besluit is eenparig geneem om die lidmaatskapgelde aan te pas na R100 per maand of R1000 per jaar indien die lid dit eenmalig vooruit betaal.


Daar is besluit om die verhoging effektief te maak vanaf 1 Junie 2017. Adri sal dus aangepaste fakture uitstuur om die verhoging aan te spreek. Ons vertrou dat almal die besluit sal ondersteun.

Veranderinge aan die Grondwet


Piet Badenhorst het veranderinge aan die grondwet voorgestel wat die naamsverandering insluit. Die veranderinge is nie fundamenteel nie en in lyn met besluite in die notules vervat. Die vergadering het die voorgestelde veranderinge eenparig aanvaar. Die aangepaste grondwet sal op die webtuiste geplaas word.

Ere Lidmaatskap


Daar is voorstelle ingedien dat ons Ere Lidmaatskap toeken aan die volgende lede vir hulle uitsonderlike bydrae tot die Tygerberg Sakekamer en die AHI oor ʼn lang tydperk:

  • Sam Pienaar
  • Piet Badenhorst
  • Paisley Downing
  • Andries van Tonder

Die vergadering het die voorstelle eenparig goedgekeur en ons wens die ontvangers van Ere Lidmaatskap geluk en bedank hulle vir die verskil wat hulle onderskeidelik in die prestasie van die sakekamer gemaak het.


Die toekennings sal tydens ons jaarlikse funksie met die Stad Kaapstad, op 23 Maart, amptelik oorhandig word.

Meningsopname onder lede


Ons besef dat dit belangrik is vir ons om die waardeproposisie wat ons aan lede bied te verbeter en daarom het ons met die hulp van die Marathon Group ʼn meningsopname onderneem om die profiel en behoeftes van ons lede beter te verstaan. Ek gee hieronder ʼn kort opsomming van die uitkoms van die opname:

  • Meeste van ons lede is mans wat ouer as 52 is.
  • Ons funksies word meestal deur eienaars van besighede bygewoon.
  • Die oor grote meerderheid van ons lede is klein besighede met minder as 10 personeel in diens en ʼn omset van minder as 5 Miljoen per jaar.
  • 66% van ons lede se kliente basis bestaan uit ʼn kombinasie van B2B en B2C.
  • Meeste van ons lede verkoop dienste en nie produkte nie.
  • Meeste lede het aangedui dat hulle lid van die Sakekamer is om toegang te kry tot netwerkgeleenthede, met ander besigheidsleiers en die advertering en bemarking van hulle besighede.
  • Helfte van ons lede voel dat die Sakekamer se waardeproposisie aan hulle verwagtinge voldoen en die ander helfte voel dat dit nie die geval is nie.
  • Ons lede se grootste uitdaging is ekonomiese wisselvalligheid en dan toegang tot nuwe markte, stadige groei in verkope en moeilike toegang tot finansiering.
  • 50% van ons lede dui aan dat die hulle die Sakekamer sien as ʼn vennoot vir leierskapontwikkeling en dui aan dat Innovasie, Besigheidsontwikkeling en Strategie onderwerpe waaroor daar ʼn ontwikkelingsbehoefte bestaan.
  • Sover dit opleidingsgeleenthede betref voel lede dat hulle ʼn behoefte het aan opleiding en toerusting mbt Kliëntediens, Gebruik van Sosiale Media en Tydsbestuur.
  • Daar is nie ʼn spesifieke voorkeur onder lede oor funksie tye nie. Die helfte verkies oggende en die ander helfte laat middag, vroeg aand.

Advertensie geleenthede


Ons webtuiste bied die geleentheid aan lede om daar te adverteer teen so min as R500 pm.

Lede is ook welkom om spesiale afslag aanbiedinge vir ʼn medelid aan Adri deur te gee vir verspreiding aan lede. Dit maak tog sin dat ons medelid ondersteun en ook afslag aan mekaar gee wanneer ons onderling besigheid doen.


Op hierdie stadium neem die volgende besighede deel:

  • TJ Lekkabraai / 10 % afslag op hout, charcoal, blits en roosters – George Ferreira 082 927 1845
  • SupaQuick Brackenfell / Kontak Abrie de Klerk vir n “Loyalty Card” by 083 459 9222
    • Bande 5%
    • Skokbrekers 10%
    • Remme 10%
    • Wielsporing 25%
  • Bolt Risk Management / 10% afslag op maandelikse tarief vir huis- en besigheid Alarm Monitering en Reaksie – Phillip van Zijl 082 904 5997

Ons moedig ook lede aan om ons Facebook bladsy te gebruik en medelid daar aan te beveel as jy hulle dienste of produkte gebruik het.

Besoeke deur Admin Beampte aan lede


Ons Administratiewe beampte het ook laas jaar begin om lede se besighede te besoek, meer uit te vind oor die eienaar en wat hulle doen. Sy neem foto’s en skryf ʼn kort oorsig saam met die lid wat ons as bekendstelling op ons Facebook bladsy plaas.


Ek moedig lede aan om hiervan gebruik te maak. Kontak Adri en nooi haar na jou besigheid. Wanneer jy ʼn medelid se plasing op facebook sien, deel dit met ander kontakte en as jy dalk met die lid besigheid gedoen het, skryf ʼn kort aanbeveling.

Funksie met Stad Kaapstad op 23 Maart


Ons bied reeds die afgelope 4 jaar hierdie geleentheid aan in die vorm van ʼn dinee waar ons die Stad Kaapstad uitnooi om met ons te kom praat oor hulle beplanning, begroting en prioriteite vir die finansiële jaar wat voorlê. Dit is deel van ons verantwoordelikheid om skakeling tussen ons lede en Plaaslike Regering te bewerkstellig.


Die Stad ondersteun ons uitstekend met die geleentheid en stuur jaarliks ʼn hoë vlak afvaardiging om ons toe te spreek. Dis hierdie jaar weer die geval. Die onder burgermeester, Raadsheer Ian Nielson, lei die afvaardiging en Prof. Erwin Schwella is die seremoniemeester.


Die tema die jaar is “Building Cape Town for the future”. Ons het besluit om minder op die detail begroting te fokus maar liewer die Stad te vra om ons in te lig hoe hulle beskikbare fondse gaan aanwend om seker te maak dat Kaapstad die plek is waar ons wil besigheid doen en woon.


  • Old Mutual is die hoof borg en ons nooi julle uit om kaartjies of dalk ʼn hele tafel te koop. Hierdie is ons prestige geleentheid waar ons jou ondersteuning nodig het. Enige besigheid wat n tafel koopkan 2 x “Banners” by die ingang opsit soos gaste teen trappe opstap.

Datum: Donderdag 23 Maart
Plek: Kuilsrivier Golf Klub
Tyd: 18:30 vir 19:00
Formaat: Dinee met 3 gang maaltyd
Drag: Semi-formeel
Koste: R275 per persoon of R2500 vir ʼn tafel van 10

Daar is ook geleentheid vir besighede om te borg met goeie blootstelling:

  • Voorportaal R2500
  • Ingang R2500
  • Gelukkige trekkingspryse / maksimum 5 / hoe groter die prys hoe beter jou blootstelling

Jaarprogram verder


BRANDEWYNPROE (20 April 2017)

Op 20 April proe ons weer brandewyn. Hierdie is ʼn geleentheid wat jy nie wil misloop nie.

Alwyn Mouton bied dit uiters interessant aan. Dit is ʼn uitstekende netwerkgeleentheid wat elke jaar baie gewild is. Ons het egter net 40 sitplekke. Bespreek jou plek vroegtydig. Dis ʼn baie geskikte geleentheid om daardie een of twee spesiale kliente heen te nooi. Ons gaan ook die aand ʼn paar gesogte items opveil.


Ons is nog op soek na ʼn borg vir die aand. Dit is ʼn uitstekende geleentheid vir ʼn besigheid om dit sy eie te maak en jaarliks te borg. Skakel gerus met my hieroor sou jy belangstel. Die eksklusiewe borgskap van die aand behoort in die omgewing van R6000 uit te werk.


OGGENDSEMINAAR VIR BESIGHEIDSLUI (11 Mei 2017)

In samewerking met Reinier Matthee van die Marathon Group gaan ons twee seminare in die oggend aanbied oor leierskap verwante onderwerpe. Die eerste seminaar word op 11 Mei aangebied en beloof om baie gewild te wees. Dit sal van 07:30 tot ongeveer 12:00 duur en dan staan dit deelnemers vry om wyn te proe, te eet en die res van die middag die kwaliteit netwerk geleentheid te benut.


Reserveer die datum! Meer inligting sal binnekort bekend gemaak word.

Laaste woord


Ons het ʼn nuwe bestuur met nuwe energie en ʼn program vol opwindende aktiwiteite. Ons sien uit na ʼn suksesvolle besigheidsjaar waarin ons hard gaan werk maar hopelik ook tyd sal kry om lekker sosiaal met mekaar te verkeer terwyl ons aan ons netwerke en besighede bou.
Terug na Nuus