Januarie 2017 Nuusbrief

Louise
16.08.17 07:58 PM Comment(s)

Ek maak graag van die geleentheid gebruik om namens die sakekamer al ons lede ʼn baie voorspoedige besigheidsjaar toe te wens. Dit is waarskynlik ʼn onvoorspelbare jaar met ʼn nuwe Amerikaanse President en potensieel gevaarlike kinkels op die Suid Afrikaanse politieke front met die aanloop na die aanwys van ʼn opvolger vir Jacob Zuma. Die effek van die politieke woelinge, droogte, waterskaarste, stygende olieprys, werksverliese in die pluimvee bedryf en meer sal verseker ʼn invloed hê op ons ekonomie en besigheidsomgewing. Met waarskynlik moeilike tye wat voorlê dink ek aan Winston Churchill se raad “When going through hell, keep going”. Die ekonomiese siklus moet sy gang gaan en tye moet weer verbeter.


Ons is nou weer volstoom aan die gang om as sakekamer vir ons lede ʼn platform te skep om onderling te netwerk, inligting te deel, sosiaal byeen te kom, opleiding te ontvang en met die Stad Kaapstad en plaaslike regering gesprek te voer en te deel in belangrike inligting.

BETALING VAN LIDMAATSKAP GELDE


Dit is ook nou tyd om lidmaatskap gelde te betaal. Onthou dat julle dit of eenmalig kan betaal op die faktuur (R700 per jaar) soos van Adri ontvang of deur middel van ʼn Debiet order (R60 per maand).


Ek wil u aanmoedig om u lidmaatskap in stand te hou en ook te help om nuwe lede te werf. Teen R60 pm is dit werklik bekostigbaar.

ADVERTENSIE GELEENTHEID AFSLAG AANBOD AAN LEDE


Ons webtuiste bied die geleentheid aan lede om daar te adverteer teen so min as R500 per maand.


Lede is ook welkom om spesiale afslag aanbiedinge vir medelede aan Adri deur te gee vir verspreiding aan lede. Dit maak tog sin dat ons mekaar ondersteun en ook afslag aan mekaar gee wanneer ons onderling besigheid doen.

BESOEKE DEUR ADRI AAN BESIGHEDE


Ons Administratiewe beampte het ook verlede jaar begin om lede se besighede te besoek, meer uit te vind oor die eienaar en wat hulle doen. Sy neem foto’s en skryf ʼn kort oorsig saam met die lid wat ons as bekendstelling op ons Facebook bladsy plaas.


Ek moedig lede aan om hiervan gebruik te maak. Kontak Adri en nooi haar na jou besigheid. Wanneer jy ʼn lid se plasing op Facebook sien, deel dit met van jou ander kontakte en as jy met die lid besigheid gedoen het, skryf ʼn kort aanbeveling.

JAARPROGRAM


Ons jaarprogram is aangeheg. Ek wil egter graag ʼn paar geleenthede uitlig.

  • Potjiekos Kompetisie
    Op Vrydag 3 Februarie 2017 hou ons weer ons jaarlikse Potjiekoskompetisie by Stellenberg Hoërskool. Dit beloof om ʼn baie lekker sosiale geleentheid te wees.Ons het heelwat bekendes wat beoordeel en bywoon. Die Braai Ve’note, Charl Bruwer en Heinz Winkler en Albert Maritz is onder die beoordelaars.Daar is baie pryse te wen, dis kinder vriendelik en ʼn uitstekende geleentheid om mekaar beter te leer ken.Die idee is dat lede ʼn pot inskryf en sy sleutel personeel kry om die pot te brou. Elke deelnemer nooi sy eie gaste (probeer op jou kliente fokus) en die deelnemer verskaf aan sy gaste kos en verversing.Ons het lewendige uitsending van Coastal Radio, lekker musiek, pryse en ʼn feestelike atmosfeer op die spyskaart.

    Die hoof borg vir die dag is TJ’S Lekka Braai.

  • Begrotingsdinee
    Op 23 Maart 2017 is ons weer die gasheer vir ʼn besoek deur die Stad Kaapstad se span wat die begroting van die Stad vir die nuwe termyn met ons kom deel.Die Uitvoerende Onder Burgermeester Ian Nielson en sy top struktuur wat die Hoof Finansiële beampte insluit, woon dit by. Hier kan jy by ʼn glansgeleentheid eerstehands uitvind hoe die stad jou belasting geld spandeer, waar hulle prioriteite lê en hoekom hulle sekere besluite neem. Plaas die datum asseblief in jou dagboek.
  • Brandewynproe
    Op 20 April 2017 proe ons weer brandewyn. Hierdie is ʼn geleentheid wat jy nie wil misloop nie. Alwyn Mouton bied dit uiters interessant aan en dit is ʼn uitstekende netwerkgeleentheid wat elke jaar baie gewild is. Dis ʼn baie geskikte geleentheid om daardie een of twee spesiale kliente te nooi. Ons het egter net 40 sitplekke beskikbaar. Bespreek jou plek vroegtydig.
  • Opleidingsgeleenthede
    In samewerking met Reinier Matthee van die Marathon Group gaan ons op twee geleenthede oggend seminare aanbied oor leierskap en verwante onderwerpe. Reserveer die datums en hou kommunikasie dop vir meer detail.Ons gaan ook Opleidingsgeleenthede bied vir lede se personeel wat op basiese bestuur- en toesighoudings-vaardighede fokus. Hier sal ons onderwerpe aanspreek soos Tydsbestuur, Basiese Finansiële beginsels vir Toesighouers en Junior bestuur en Veiligheid in die werkplek ens. Ons kommunikeer meer detail binnekort.

DANKIE AAN STELLENBERG HOERSKOOL


Ek wil namens die Sakekamer vir Stellenberg Hoërskool amptelik bedank vir hulle ondersteuning. Die skool stel gereeld hulle fasiliteite aan ons beskikbaar vir funksies en nou weer vir die Potjiekoskompetisie.
Terug na Nuus