Februarie 2018 Nuusbrief

Shané
30.06.23 08:42 AM Comment(s)

Ek maak graag van die geleentheid gebruik om namens die sakekamer al ons lede ʼn baie voorspoedige besigheidsjaar toe te wens. Daar is verskeie uitdagings  voor ons deur maar ook geleenthede.


Op die politieke front hou ons asem op en hoop dat Mnr. Zuma die eerbare ding sal doen en dat Mnr. Ramaphosa in die nabye toekoms by hom sal oorneem. Ons rand is op hierdie stadium sterk en die ekonomie smag na ʼn bietjie goeie nuus om weer ʼn slag kop op te tel.


Dag Zero is vir ons ʼn onbekende faktor. Ons doen ʼn beroep op al ons lede om sover moontlik water verbruik te verminder terwyl hulle ook innoverend dink oor hoe om minder van munisipale water toevoer afhanklik te wees. As ons die impak van ʼn dag Zero bereken is dit moontlik die moeite werd om ʼn paar rand te spandeer aan alternatiewe opsies.


As die Grabouw boere tot die stad se redding kan kom waar hulle tans ʼn surplus water het as gevolg van goeie pro-aktiewe beplanning, is ek seker ons kan ook met werkbare oplossings vorendag kom. Dit sal ons egter noop om kragte saam te span ten einde die uitdaging die hoof te bied.

Finansies en lidmaatskap


Ons finansies lyk gesond en ons bankbalans is rondom R65 000. Ons skuld niemand geld nie en ons lidmaatskap groei stadig maar tog konstant.


Dit is ook nou tyd om jaarlikse lidmaatskap gelde te betaal. Onthou dat julle dit of eenmalig kan betaal op die faktuur (R1 000 per jaar voor 15 Maart) soos van Adri ontvang of deur middel van ʼn Debietorder (R100 per maand).


Ek doen weereens ʼn beroep op elke lid om te poog om net nog 1 ander besigheid as lid te werf. So kan ons lidmaatskap in 2018 gemaklik verdubbel.

Advertensie geleenthede


Ons webtuiste bied die geleentheid aan lede om daar te adverteer teen so min as R500 pm.


Lede is ook welkom om spesiale afslag aanbiedinge vir ʼn medelede aan Adri deur te gee vir verspreiding. Dit maak tog sin dat ons mekaar ondersteun en ook afslag aan mekaar gee wanneer ons onderling besigheid doen.


Op hierdie stadium neem die volgende besighede deel:

  • TJ’S Lekka Braai / 10 % afslag op hout, charcoal, blits en roosters – George Ferreira 082 927 1845
  • Supa Quick Brackenfell / Kontak Abrie de Klerk vir ʼn lojaliteitskaart by 083 459 9222
  • Bolt Risk Management / 10% afslag op maandelikse tarief vir huis- en besigheid Alarm Monitering en Reaksie – Phillip van Zijl 082904599

Ons moedig ook lede aan om ons Facebook bladsy te gebruik en medelede daar aan te beveel as jy van hulle dienste of produkte gebruik het.

Jaarprogram 2018

   POTJIEKOSKOMPETISIE
   Datum: Vrydag 16 Februarie 2018
   Tyd: vanaf 12.00 tot laat.
   Waar: Stellenberg Hoërskool
   Koste: R400 per pot.

Dit is ons eerste funksie in die nuwe jaar. Hierdie geleentheid word baie goed ondersteun en was die afgelope aantal jare elke keer ʼn baie groot sukses. Reserveer die datum en maak seker jy skryf in, nooi jou kliente, verskaffers en personeel om heerlik die middag sosiaal te verkeer en te netwerk met ander lede en hulle gaste. Daar is ʼn springkasteel vir kinders en baie ruimte om te speel.

Die geleentheid word gekenmerk aan uitstekende pryse en byna almal wat bywoon wen iets. TJ’S Lekka Braai is ons hoofborg met ondersteuning van Capepots, SPAR, Cape Foods en Charl Braai Bruwer.

   ALGEMENE JAARVERGADERING
   Datum: 11 APRIL 2017 (datum is verskuif vanaf 1 Maart 2018)
   Plek: Hoërskool Stellenberg
   Tyd: 18:30 vir 19:00
   Koste: R80

Nominasies vir bestuurslede moet ingedien word voor Vrydag 6 April 2018. Nominasie vorms sal 2 weke voor die vergadering uitgestuur word of sal by Adri beskikbaar wees.

   FUNKSIE MET STAD KAAPSTAD
   Datum: Donderdag 15 Maart 2018.
   Tyd: 18.30 vir 19.00.
   Plek: Durbanville Hills Wynlandgoed
   Koste: R350 per persoon of R2800 vir ʼn tafel van 8

Ons bied reeds die afgelope 5 jaar hierdie glansgeleentheid aan in die vorm van ʼn sake-ete waar ons die Stad Kaapstad uitnooi om met ons te kom praat oor hulle beplanning, begroting en prioriteite vir die finansiële jaar wat voorlê. Dit is deel van ons verantwoordelikheid om skakeling tussen ons lede en Plaaslike Regering te bewerkstellig.

Die Stad ondersteun ons uitstekend met die geleentheid en stuur jaarliks ʼn hoë vlak afvaardiging om ons toe te spreek. Die afvaardiging van die Stad word gewoonlik gelei deur die Onder Burgermeester, Raadsheer Ian Neilson.

Old Mutual en Nedbank is ons borge en hulle het bevestig dat hulle vir 2018 weer aan boord is.

Die funksie word aangebied by Durbanville Hills Wynlandgoed met ʼn 3 gang ete, komplimentêre wyn en kontantkroeg. Die koste is R350 per persoon of R2800 vir ʼn tafel van 8.

Die uitnodigings word binnekort uitgestuur.

   BRANDEWYNPROE
   Datum: Donderdag 19 April 2018.
   Tyd: 18.30 vir 19.00

Die Brandewynproe is ʼn jaarlikse instelling en dit is dié geleentheid wat jy nie wil misloop nie. Alwyn Mouton bied dit uiters interessant aan. Dit is ʼn uitstekende netwerkgeleentheid wat elke jaar baie gewild is en word in Hoërskool Stellenberg se funksielokaal gehou. Ons het egter net 40 sitplekke. Bespreek jou plek vroegtydig. Dis ʼn baie geskikte geleentheid om daardie een of twee spesiale kliente heen te nooi.


Nedbank het reeds bevestig dat hulle weer die aand borg.


Samewerking met Durbanville Sakekamer

Daar is kontak gemaak met Stefan du Toit die voorsitter van Durbanville Sakekamer en daar is besluit op nouer samewerking van die twee sakekamers.


Daar is ooreengekom om mekaar se funksies te adverteer asook om dit te ondersteun.


Hulle bied op Dinsdag 20 Maart ʼn geleentheid aan by Durbanville Hills waar Minister Anton Bredell die spreker is. Toegang is R100 vir Tygerberg Sakekamer lede. Om dit by te woon RSVP so spoedig moontlik by Wanda Carstens info@durbanvillesakekamer.co.za of 083 635 1182.

AHi Wes- Kaap


Soos by die AHI WES KAAP se AJV besluit, bly ons voortbestaan as die AHI Wes Kaap met sy onderskeie sakekamers. Ek het onlangs die Dagbestuur se vergadering bygewoon en die Voorsitter Dr Willie Cilliers het die pad vorentoe toegelig.


Hy het groot planne. Die bal is aan die rol om uitvoering te gee aan die besluit om ʼn niewinsgewende maatskappy te stig om die voertuig te word waaruit die AHI Wes Kaap voortaan bedryf sal word.


Alternatiewe modelle vir die betaling van lidmaatskap aan die AHI Wes Kaap is ook bespreek en is baie naby aan ons voorstel om ʼn persentasie per opbetaalde lid in die betrokke sakekamer te betaal.


Ons gaan ook voort om by SBI te affilieer soos besluit. Daar sal opvolg gesprekke met die President Bernard Swanepoel gevoer word oor die waardeproposisie vir die AHI Wes Kaap. Ons ondersoek egter intussen ook ander roetes om Nasionale erkenning te kry soos onder andere affiliasie deur SACCI en NAFCOC.

Terug na Nuus