Verslag van die Voorsitter van die Tygerberg Sakekamer 2023/2024

Tygerberg Sakekamer
05.09.24 02:53 PM Comment(s)

Hiermee ʼn oorsig van die Sakekamer se aktiwiteite die afgelope jaar:

Oorsig

Die afgelope jaar was vir ons ʼn opwindende en baie suksesvolle een wat ons kan afsluit met die toekenning van die AHI Sakekamer van die jaar tydens ‘n spog geleentheid by Goedgeleven in Durbanville. Die bestuur ontmoet maandeliks en sorg dat die Sakekamer goed funksioneer en bestuursvergaderings agendas is saaklik en besluite word geneem met die doel om die lede en die sakekamer as ‘n geheel te bevorder. 


Ons is dankbaar vir die toewyding van die bestuur aangesien elke entrepeneur voor die groot uitdaging met betrekking tot beskikbare tyd staan en waardeer hulle waardevolle insette en tyd om aan die sake van die kamer te bestee. Die bestuur het hulle werklik uitstekend van hulle taak gekwyt.


Ons ledetal het gestyg na 67 lede. Soos te wagte is daar jaarliks ʼn paar lede wat hul lidmaatskap opsê en nuwes wat bykom. Ons hoop dat lede wat gekanselleer het weer op ‘n latere geleentheid by ons sal aansluit. Ons is opgewonde oor die aansluiting van 5 nuwe lede sommer vroeg in die nuwe jaar en is dit ‘n goeie vooruitsig op die jaar wat kom.


Ons kontantvloei is inaggenome ons ledetal steeds goed en het ons ʼn batige banksaldo van R10 187.21 op 31 Desember 2023. 

Ek kan, met groot dank aan my bestuur, rapporteer dat ons ʼn baie aktiewe Sakekamer is en ons administrasie uiters vlot verloop.

Mylpale van die afgelope jaar.


Wat het ons die afgelope jaar vermag?

1. ‘n verhoogde ledetal by vergaderings en byeenkomste.

2. Lelanie Carrick van LC Design het heeljaar die uitsonderlike diens verrig om ons sosiale platforms op datum te hou en elke funksie en netwerk te bemark en foto’s te neem. Ons volgelinge groei steeds mooi danksy haar hulp en bystand met Facebook en Instagram. Dit hou ons lede op hoogte en help met bemarking na buite.

3. Die bestuurskomitee lede sit baie ekstra ure in die sakekamer ten spyte van hulle individuele uitdagings dat hulle self in professionele beroepe staan of besighede bedryf en tyd ‘n beperkte kommoditeit is. Ten spyte daarvan kon ons goeie waarde vir ons lede bied en ons administratiewe pligte byhou.

4. Die Sake-ete met die Stad Kaapstad. Hierdie hoogtepunt en spog geleentheid het plaasgevind op 18 Mei by Goedgeleven net buite Durbanville. Ouder gewoonte was Kaapstad se Burgemeester weer die spreker en is daar heerlik gekuier. Die borge was Old Mutual en Nedbank.

5. Ons TJ’S Lekka Braai Potjiekoskompetisie by Stellenberg Hoërskool was weer ʼn groot sukses. Daar het 14 potte ingeskryf en ons het ‘n heerlike dag van lekker eet, lag, pryse en bou van nuwe besigheidsvriende en konneksies daaruit gekry. Ons beoordelaars was Jenny Morris en dosente van Northlink College se spysenierings fakulteit. Dit bly verseker ‘n baie groot hoogtepunt op ons jaarlikse program.

6. Die Sakekamer het ʼn suksesvolle Vrouedag gehou op 5 Augustus te Cuppanote Brackenfell met die veelsydige Marinda Engelbrecht. Dit is terdeë deur die dames geniet en het ons ‘n wonderlike opkoms van amper 100 vroue gehad.

7. ʼn Suksesvolle uitreik geleentheid het plaasgevind by MES op 18 Julie 2023 - Mandela dag. Toiletware is geskenk en die span het boereworsrolle voorberei vir die 100 persone by die skuiling.

8. Sakekamer se Gholfdag het op 6 Oktober te Kuilsrivier Gholfklub plaasgevind. Dit was vir die 3 de keer ʼn heerlike en suksesvolle geleentheid. Hierdie is beslis ‘n dag wat nie gemis moet word nie en uitstekende waarde bied aan lede vir bemarking, netwerk en blootstelling.

9. ʼn Besliste hoogtepunt was ook toe 1 van ons lede, Niel Roussouw van Byers Security aangewys is die AHI se opkomende Sakeman van die Jaar.

10. Die Sakekamer se Onder-voorsitter, Elroy Jonkers is gekies tot die direksie van Business Western Cape. Ons is opreg trots op hierdie mylpaal.

11. Die Sakekamer was so bevoorreg om in 2023 gekies te word as Sakekamer van die Jaar. Die wenner is op 8 November aangewys by ʼn spoggeleentheid by Goedgeleven buite Durbanville. 

12. Ons Jaarafsluiting was ʼn lekker saamkuier en rolbalspeel by Kraaifontein Bowling Klub op 23 November 2023. 

13. Ons finansiële posisie is steeds goed en ons is dankbaar om geld in die bank te kan hê. Die Tesourier sal in haar finansiële verslag die detail hanteer. Ons borge het ʼn groot rol gespeel en wil ek weereens spesifiek vir Nedbank en Old Mutual uitsonder as hoofborge wat weer ruim geborg het. Dan is daar ook verskeie ander borge en lede van ons Sakekamer wat deurlopend ʼn bydrae lewer. Daar was ook ander hoogtepunte en netwerkgeleenthede maar kom ons volstaan by die bogenoemde. Dankie, aan ons lede wat die Sakekamer se aktiwiteite ondersteun het en wat die Sakekamer se belange op die hart dra.

Ledetal


Ons ledetal soos reeds genoem staan op 67 lede en hou ons doelwit van ʼn 100 lede in die oog vir die nabye toekoms. Die potensiaal in ons omgewing is groot en moet lede ons asb help om die groei te bewerkstellig.


Ons ledetal het mooi gegroei van net in die 20 in 2015 en daarom is ons vol vertroue dat ons teiken van 100 haalbaar is. Indien elke lid dit hierdie jaar sy of haar taak maak om nog ʼn lid te werf sal dit reeds ʼn aansienlike groei in die lede toon. Daar het reeds ‘n hele klomp nuwe besighede by ons aangesluit en ons is ontsettend opgewonde oor elke nuwe lid se betrokkenheid by die Sakekamer.


Ek doen weereens ʼn beroep op almal om asb. aktief by ledewerwing betrokke te raak.

Bestuur


Ek het nou my vierde jaar as voorsitter gedien en wil graag spesifiek vir my ondervoorsitter Elroy Jonkers bedank vir sy bystand en ondersteuning in hierdie reuse taak. Ek wil graag ook van die geleentheid gebruik maak om vir ons tesourier Debbie Taljaard, te bedank vir die rol wat sy gespeel het in die sukses van ons sakekamer en die mooi hantering van ons finansies.


Dit is altyd goed om jaarliks nuwe energie in die bestuurskomitee te bekom en ek is opgewonde om te verneem dat al ons nuwe bestuurs lede van laas jaar weer hulle self beskikbaar gestel het vir nog ‘n termyn. Ek is dankbaar vir die ondersteuning en toewyding van my bestuurspan. Die span is kreatief en betrokke in die gemeenskap en almal is baie besig in hul eie besighede en beroepe maar tog vind hulle die tyd om op die kamer se bestuur te dien en nuwe inisiatiewe aan te pak.

Hier moet ek die dagbestuur wat bestaan uit Phillip van Zijl, Elroy Jonkers, Debbie Taljaard, en Marina van der Meulen spesifiek bedank vir hulle volgehoue poging. Baie dankie vir julle toewyding en opoffering.

Waardeproposisie aan lede


Ons is deeglik bewus dat ons ledetal slegs sal groei as ons ʼn waardeproposisie aan lede bied. Ons het beslis daarin geslaag om lede en ander sakemense by ons aktiwiteite te betrek. Ons vorm deel van gespreksgroepe soos die GTP (Greater Tygerberg Partnership) Bellville en sakekamers binne die AHI en Business Western Cape. Ons streef voortdurend daarna om die waardeproposisie aan ons lede te bly verbeter.

Finansies


Ons het tans ʼn batige banksaldo van R58 555.85 en ʼn beleggingsrekening met die saldo van R46 445.03.Ek dink ons kan altyd streef na ʼn verbetering in ons finansiële posisie wat gepaard gaan met aktiewe nuwe ledewerwing. Die Tesourier doen volledig verslag. Sien aangehegte detail finansiële state. Ons het tans ʼn batige banksaldo van R76 699.


Ek dink ons kan streef na ʼn verbetering in ons finansiële posisie wat gepaard gaan met aktiewe nuwe ledewerwing. Ons was egter vir die eerste keer in staat om aan ons administratiewe beampte ʼn 13de tjek te kan bied om haar werklik te bedank vir haar groot en volgehoue bydrae tot die sukses van die Sakekamer.


Die Tesourier doen volledig verslag.

Bedankings

Ek wil graag die Bestuur bedank vir hulle ondersteuning en toewyding.

Dan ook die raadslede wat ons ondersteun. Baie dankie vir julle betrokkenheid en voorgesette ondersteuning. 

Ek wil ook vir Hoërskool Stellenberg baie dankie se vir die beskikbaarstelling van hulle fasiliteite vir ons Potjiekoskompetisie elke jaar 

Laaste maar seker die belangrikes, ons lede, dankie aan elkeen van julle vir jou lidmaatskap en ondersteuning. Ons besef terdeë dat sonder jou betrokkenheid die Tygerberg Sakekamer nie bestaansreg het nie.

Terug na Nuus