Verslag van die Voorsitter van die Tygerberg Sakekamer 2019/20

Shané
30.06.23 09:22 AM Comment(s)

Hiermee ʼn oorsig van die Sakekamer se aktiwiteite die afgelope jaar:

Oorsig

Die afgelope jaar was vir ons ʼn opwindende en suksesvolle een. Die dagbestuur sorg dat die Sakekamer goed funksioneer en bestuursvergaderings agendas is saaklik en besluite word vinniger geneem. Dit het ook goed ingepas met die werksaamhede van die Admin Beampte, Adri Meadon en daar word elke 2de maand ʼn volledige bestuursvergadering gehou.

Ten spyte van groot uitdagings met betrekking tot beskikbare tyd van bestuurslede om aan die sake van die kamer te bestee het ons sake goed hanteer en die dagbestuur het werklik die spreekwoordelike wa deur die drif getrek.


Ons ledetal het effe gedaal vanaf 70 lede na 60. Soos te wagte is daar jaarliks ʼn paar lede wat hul lidmaatskap opsê. Die afname die jaar was baie kenmerkend die gevolg van die oorskuif na die nuwe debietorder sisteem en lede wat versoek is om nuwe dokumentasie te voltooi wat dan aangedui het dat hulle lidmaatskap wil beëindig. Hierdie is in elk geval nie-aktiewe lede gewees.
As bestuur wonder ons egter deurlopend of dit is weens ʼn gebrek aan waarde toegevoeg en of die lede net eenvoudig nooit betrokke genoeg geraak het om voordeel uit die verhoudinge te trek nie?


Ons kontantvloei is inaggenome die daling in ledetal steeds goed en het ons ʼn batige banksaldo van R76 699 Die effek dat ons die laaste jaar of 2 geen verhoging in ons ledegelde aangekondig het nie impakteer ook op hierdie saldo. Oorweging moet geskenk word aan die aanpassing van die ledegelde. Ek kan, met groot dank aan my bestuur, rapporteer dat ons ʼn baie aktiewe Sakekamer is en ons administrasie met dank aan Adri Meadon uiters vlot verloop.

Mylpale van die afgelope jaar.

Wat het ons die afgelope jaar vermag?

  1. Die implementering van die besluit om die Sakekamer se eie vermoë te vestig om Debiet Orders te kan vorder en so lidmaatskap gelde op datum te hou. Hier het ons suksesvol met SANLAM Multi Data hande gevat en vanaf 1 April 2019 word ons eie debietorders geloods teen ons lede se rekeninge in ons eie naam. Soos reeds verduidelik het dit wel ʼn impak op ons ledetal gehad maar ons is vol vertroue dat hierdie situasie spoedig sal verbeter.
  2. Groot dank aan Pathfind Media en Jo Wagner met die hulp om ʼn splinternuwe webtuiste te loods – dit word vanaand vir die eerste keer aan die lede bekend gestel.
  3. Lelanie Carrick van LC Design het heeljaar die uitsonderlike diens verrig om ons sosiale platforms op datum te hou en elke funksie en netwerk te bemark en foto’s te neem. Ons volgelinge groei mooi danksy haar hulp en bystand met Facebook en Instagram. Dit hou ons lede op hoogte en help met bemarking na buite.
  4. Die bestuurskomitee lede sit steeds met die uitdaging dat hulle self in professionele beroepe staan of besighede bedryf en dus beperkte tyd het om in die sakekamer te werk. Ten spyte daarvan kon ons goeie waarde vir ons lede bied en ons administratiewe pligte byhou.
  5. Die Sake-ete met die Stad Kaapstad is vir die 7 de agtereenvolgende jaar aangebied en ons het weer Nedbank en Ou Mutual as borge betrokke gehad. Ons is uiters dankbaar vir hulle betrokkenheid by ons Sakekamer.
  6. Ons TJ’S Lekka Braai Potjiekoskompetisie by Stellenberg Hoërskool was weer ʼn groot sukses. Ons het 25 potte ingeskryf gehad en ons het baie positiewe terugvoer daaroor gekry. Dit bly verseker ʼn “fixture” op ons program.
  7. Ons Vrouedag op 16 Augustus 2019 was ʼn hoogtepunt op ons kalender. Dit was aangebiedby Tygervallei Besigheidskonferensie lokaal met 63 vroue wat bygewoon het. Nedbank was oudergewoonte ons hoofborg van die oggend. Die tema was “Voorsorg teen Kanker maak die Nasorg makliker vir die Sakevrou”. Ons sprekers was dr Ettienne Myburgh asook finansiële beplanner Louw Venter. Gaskunstenaar Marion Holm het daarna die dames vermaak.
  8. Ons Jaarafsluiting was ʼn verdere uitskiet geleentheid op 6 November 2019 by Beyerskloof Landgoed met die wynmaker Beyers Truter en Christo Snyman wat die 65 gaste met kos, wyn en musiek vermaak het. Almal was dit eens dat dit een van die lekkerste kuiers en funksies nog was en ons het boonop ʼn wins gemaak van ongeveer R5 445.00 terwyl ons slegs die direkte kostes van die spyseniering van die lede verhaal het.
  9. Ons finansiële posisie is steeds goed en ons is dankbaar om steeds geld in die bank te kan hê. Die Tesourier sal in sy finansiële verslag die detail hanteer. Ons borge het ʼn groot rol gespeel en wil ek weereens spesifiek vir Nedbank en Old Mutual uitsonder as borge wat weer ruim geborg het. Dan is daar ook verskeie ander borge en lede van ons Sakekamer wat deurlopend ʼn bydrae lewer. Daar was ook ander hoogtepunte en netwerkgeleenthede maar kom ons volstaan by die bogenoemde. Dankie, aan ons lede wat die Sakekamer se aktiwiteite ondersteun het en wat die Sakekamer se belange op die hart dra.

Ledetal

Ons ledetal het soos reeds genoem gedaal na 60 lede en ons het nie ons doelwit van ʼn 100 lede gehaal nie. Die potensiaal in ons omgewing is groot en moet lede groei bewerkstellig.


Ons ledetal het gegroei van 28 in 2015 en daarom is ons vol vertroue dat ons teiken van 100 haalbaar is. Indien elke lid dit hierdie jaar sy of haar taak maak om nog ʼn lid te werf sal dit reeds ʼn aansienlike groei in die lede toon.


Dit bly beslis ʼn uitdaging vir die bestuur in die nuwe jaar.

Ek doen weereens ʼn beroep op almal om asb. aktief by ledewerwing betrokke te raak.

Bestuur

Ek het nou my eerste jaar as voorsitter gedien en wil graag spesifiek vir my ondervoorsitter Phillip van Zijl bedank vir sy bystand en ondersteuning in hierdie reuse taak.


Ek wil graag ook van die geleentheid gebruik maak om vir ons tesourier Theunis Visagie, wat ook vanaand uittree, te bedank vir die enorme rol wat hy gespeel het in die sukses van ons sakekamer en die mooi hantering van ons finansies. Dankie vir jou tyd en opoffering en baie sterkte met die studies. So ook ʼn spesiale dankie aan Lucius Moolman en Bjorn Harmse wat weens werkverpligtinge uittree. Bjorn het aangedui hy is steeds beskikbaar om te help as ons hom nodig het maar wil plek maak vir iemand wat bywoning by vergaderinge en beplanning kan verseker. Jou volgehoue betrokkenheid en ondersteuning in die verband is vir ons ʼn riemonder die hart.


Dit is altyd goed om jaarliks nuwe energie in die bestuurskomitee te bekom en ek is opgewonde om te verneem dat ons nuwe nominasies het wat waarskynlik vanaand tot die bestuur verkies sal word.


Ek is dankbaar vir die ondersteuning en toewyding van my bestuurspan. Die span is klein en almal is baie besig in hul eie besighede en beroepe maar tog vind hulle die tyd om op die kamer se bestuur te dien.


Hier moet ek die dagbestuur wat bestaan uit Phillip van Zijl, Elroy Jonkers, Theunis Visagie, Zelna Hadlow en dan Adri Meadon spesifiek bedank vir hulle volgehoue poging.


Baie dankie vir julle toewyding en opoffering.

Waardeproposisie aan lede

Ons is deeglik bewus dat ons ledetal slegs sal groei as ons ʼn waardeproposisie aan lede bied. Ons het beslis daarin geslaag om lede en ander sakemense by ons aktiwiteite te betrek. Ons sal egter die koste van bywoning van nie-lede by funksies wat minimaal was in heroorweging moet bring.


Die afgelope jaar het ons 12 funksies aangebied wat deur 847 persone bygewoon is.
Ons moet egter deurlopend streef om die waardeproposisie aan ons lede verter te verbeter.

Finansies

Ons het tans ʼn batige banksaldo van R76 699.
Ek dink ons kan streef na ʼn verbetering in ons finansiële posisie wat gepaard gaan met aktiewe nuwe ledewerwing. Ons was egter vir die eerste keer in staat om aan ons administratiewe beampte ʼn 13de tjek te kan bied om haar werklik te bedank vir haar groot en volgehoue bydrae tot die sukses van die Sakekamer.


Die Tesourier doen volledig verslag.


Sien aangehegte detail finansiële state.

Bedankings

Ek wil graag die Bestuur bedank vir hulle ondersteuning en toewyding.


Ek sou ook weereens graag vir Adri Meadon uitsonder. Sy doen uitstekende werk. Dan die ook die raadslede wat ons ondersteun. Baie dankie ook vir julle betrokkenheid. Ek wil ook vir Hoërskool Stellenberg baie dankie se vir die beskikbaarstelling van hulle fasiliteite vir ons Potjiekoskompetisie vroeër vanjaar en dan vir Jamrock vir verskeie netwerkgeleenthede en vergaderinge soos vanaand. Baie dankie Jaco en Lizette vir julle teater en die gebruik van die fasiliteite – dit is vir ons van onskatbare waarde.


Laaste maar seker die belangrikes, ons lede, dankie aan elkeen van julle vir jou lidmaatskap en ondersteuning. Ons besef terdeë dat sonder jou betrokkenheid die Tygerberg Sakekamer nie bestaansreg het nie.

Terug na Nuus