Verslag van die Voorsitter van die Tygerberg Sakekamer 2018/19

Shané
30.06.23 09:11 AM Comment(s)

Hiermee ʼn oorsig van die Sakekamer se aktiwiteite die afgelope jaar:

Oorsig


Die afgelope jaar was vir ons weereens suksesvol. Ons dagbestuur sorg dat ons goed funksioneer en bestuursvergaderings agendas is korter en besluite word vinniger geneem. Dit het ook goed ingepas met die werksaamhede van die Admin Beampte, Adri Meadon en het slegs nodig om elke 2de maand ʼn volledige bestuursvergadering te hou.


Ten spyte van groot uitdagings met betrekking tot beskikbare tyd van bestuurslede om aan die sake van die kamer te bestee het ons sake goed hanteer en die dagbestuur het werklik die spreekwoordelike wa deur die drif getrek.


Ons ledetal bly steeds stabiel rondom 70. Soos te wagte is daar jaarliks ʼn paar lede wat hul lidmaatskap opsê. As bestuur wonder ons deurlopend of dit is weens ʼn gebrek aan waarde toegevoeg en of die lede net eenvoudig nooit betrokke genoeg geraak het om voordeel uit die verhoudinge te trek nie?


Ons kontantvloei is goed en ons het ons batige banksaldo van meer as R100 000 ten spyte van dat ons verlede jaar geen aanpassing gemaak het in ledegelde nie.


Ek kan, met groot dank aan my bestuur, rapporteer dat ons ledetal stabiel is terwyl ons kontantvloei goed is ons administrasie vlot verloop.

Mylpale van die afgelope jaar.


Wat het ons die afgelope jaar vermag?

  1. Ons het ons self ten doel gestel om in die jaar by SARS te registreer as ʼn “Publieke Besigheidsorganisasie” (PBO). Let wel dit is nie ʼn regsentiteit nie maar net ʼn organisasie sonder winsoogmerke wat in die belang van die publiek optree (sakemanne en vroue in die geval). So ʼn organisasie word deur SARS as belastingpligtige onthef, kan werknemers in diens neem en PAYE en UIF aftrek en aan SARS oorbetaal. Ek kan rapporteer dat met die hulp van Hester Neethling ons dit suksesvol kon deurvoer.
  2. Ons het ook besluit om Die Sakekamer se eie vermoë te vestig om Debiet Orders te kan vorder en so lidmaatskap gelde op datum te hou. Hier het ons suksesvol met SANLAM Multi Data hande gevat en ons is trots om aan te kondig dat vanaf 1 April 2019 ons, ons eie debietorders kan loods teen ons lede se rekeninge in ons eie naam.
  3. Met die hulp van Azapi wend ons ons Webtuiste en Facebook bladsy heelwat meer effektief aan. Dit hou ons lede op hoogte en help met bemarking na buite.
  4. Die bestuurskomitee lede sit steeds met die uitdaging dat hulle self in professionele beroepe staan of besighede bedryf en dus beperkte tyd het om in die sakekamer te werk. Ten spyte daar van kon ons goeie waarde vir ons lede bied en ons administratiewe pligte byhou.
  5. Die Sake-ete met die Stad Kaapstad is vir die 6 de agtereenvolgende jaar aangebied en ons het weer NEDBANK en Ou Mutual as borge betrokke.
  6. Op Mandeladag het ons lede uitgereik na informele besighede rondom die Bellville stasie om meer te leer van hulle uitdagings en hoe ons hulle moontlik kan help om meer suksesvol te wees. Almal wat meegedoen het, was verstom oor die insigte wat ons bekom het in die lewens van hierdie entrepreneurs.
  7. Uit die Mandeladag interaksies het ons kandidate gewerf vir ons entrepreneursopleiding en het ons so ʼn werklike bydrae gelewer in die sukses van hierdie mikro besighede.
  8. Ons Potjiekoskompetisie aangebied by Stellenberg Hoërskool was weer ʼn groot sukses. Ons het 24 potte ingeskryf gehad en ons het baie positiewe terugvoer daaroor gekry. Dit bly verseker ʼn “fixture” op ons program.
  9. Ons finansiële posisie is steeds goed en ons toon ʼn aansienlike wins. Die Tesourier sal in sy finansiële verslag die detail hanteer. Ons borge het ʼn groot rol gespeel en wil ek weereens spesifiek vir NEDBANK en Old Mutual uitsonder as borge wat ons Sake-ete met die Stad weer ruim geborg het. Dan is daar ook TJ’S Lekka Braai, Cape Pots, Capitec, Laubscher en Hattingh, Bolt Risk Management en Azapi IT Services wat ook deurlopend ʼn bydrae lewer.

Daar was ook ander hoogtepunte maar kom ons volstaan hierby. Dankie, aan ons lede wat die Sakekamer se aktiwiteite ondersteun het en wat die Sakekamer se belange op die hart dra.

AHI Wes Kaap en die SBI


Soos u sal onthou het die AHI Nasionaal ophou voortbestaan en homself omvorm na die SBI (Small Business Institute) sonder om takke sinvol daaroor te raadpleeg. Die AHI Wes Kaap het ʼn strategiese besluit geneem om te bly voortbestaan as die AHI Wes Kaap en ons het die besluit gesteun. Dr Willie Cilliers is die voorsitter van die AHI Wes Kaap met sy sowat 40 sakekamers. Die AHI Wes Kaap is ʼn Maatskappy Sonder Winsoogmerke met ʼn direksie. Dr Willie Cilliers is die voorsitter van die direksie en ek is die afgelope jaar aangestel as direkteur saam met Richard Shumi, Ilse Lochner en Albert Geldenhuys.


Die verhouding met die SBI bly effens gespanne aangesien hulle ons probeer oortuig om by hulle te affilieer en af te sien van die gebruik van die naam AHI. Ons as AHI Wes Kaap poog om bloot die standpunt in te neem dat ons ons AHI identiteit gaan behou en dat ons dit sal oorweeg om moontlik in die toekoms by die SBI te affilieer mits hulle die vyandigheid jeens ons staak. Die saak sal later vanjaar weer by die AHI Wes Kaap se AJV op die agenda wees.


Die Tygerberg Sakekamer bly dus geaffilieer by die AHI Wes Kaap met ons fokus op ʼn inklusiewe benadering wat nie op Afrikaans per se fokus nie maar eerder op optimale funksionering as ʼn effektiewe sakekamer wat aan lede waarde toevoeg en hulle belange op die hart dra.

Ledetal


Ons ledetal het rondom 70 gestabiliseer en ons het nie ons doelwit van ʼn 100 lede gehaal nie. Die potensiaal in ons omgewing is groot en moet ledegroei bewerkstellig.


Ons ledetal het gegroei van 28 in 2015 tot 72 in 2019.


Dit bly ʼn seker uitdaging vir die bestuur in die nuwe jaar.


Ek doen weereens ʼn beroep op almal om asb. aktief by ledewerwing betrokke te raak.

Bestuur


Ek het nou sedert 2014 as voorsitter gedien en dit is nou tyd vir my om terug te staan en die stoel aan ʼn opvolger te oorhandig. Ek is dus nie beskikbaar as voorsitter vir die jaar wat volg nie.


Ek is wel beskikbaar om as ondervoorsitter te dien as ek verkies word.


Ek wil graag ook van die geleentheid gebruik maak om vir George Ferreira, wat ook vanaand uittree, te bedank vir die enorme rol wat hy gespeel het in die sukses van ons sakekamer. George het geborg, gehelp, gereël, kos gemaak en vir my ingestaan wanneer ek nie beskikbaar was nie. Ons gaan hom verseker op die bestuur mis maar omdat George, George is weet ek hy sal altyd beskikbaar wees om te help as ons hom nodig het.


Ons het nuwe energie in die bestuurskomitee dringend nodig en ek is opgewonde om te verneem dat ons nuwe nominasies het wat waarskynlik vanaand tot die bestuur verkies sal word.


Ek is dankbaar vir die ondersteuning en toewyding van my bestuurspan. Die span is klein en almal is baie besig in hul eie besighede en beroepe maar tog vind hulle die tyd om op die kamer se bestuur te dien.


Hier moet ek die dagbestuur wat bestaan uit George Ferreira, Sunel Beeselaar, Theunis Visagie en dan Adri Meadon spesifiek bedank vir hulle volgehoue poging.


Baie dankie vir julle toewyding en opoffering.

Waardeproposisie aan lede


Ons is deeglik bewus dat ons ledetal slegs sal groei as ons ʼn waardeproposisie aan lede bied. Ons het redelik daarin geslaag om lede en ander mense by ons aktiwiteite te betrek.


Die afgelope jaar het ons 13 funksies aangebied wat deur 1032 persone bygewoon is.


Ons moet egter deurlopend streef om die waardeproposisie aan ons lede te verbeter.

Entrepreneursopleiding


Ons is trots om te rapporteer dat ons sakekamer die afgelope jaar in samewerking met die AHI Wes Kaap suksesvol twee entrepreneurs- opleidingskursusse aangebied het. Tygerberg 104 FM het ons hande hier gevat en aan ons die fasiliteite gratis beskikbaar gestel terwyl die befondsing om dit moontlik te maak deur die AHI Wes Kaap van die Belgiese regering ontvang is.


Daar was 23 studente betrokke en die program het geëindig met ʼn aanbieding van die entrepreneurs se besigheidsplanne voor ʼn paneel beoordelaars wat deur George Ferreira gelei is.


Ons is trots om die wenners vanaand in ons midde te hê en ook hulle pryse later vanaand aan hulle te oorhandig.

Finansies


Ons toon weer ʼn wins en ons het ʼn batige banksaldo van net oor die R100 000.


Ek dink ons kan tevrede voel met ons finansiële prestasie. Dit spreek ook van effektiewe, gedissiplineerde en konserwatiewe bestuur.


Die Tesourier doen volledig verslag.


Sien aangehegte detail finansiële state.

Bedankings


Ek wil graag die Bestuur bedank vir hulle ondersteuning en toewyding.


Ek sou ook weereens graag vir Adri Meadon uitsonder. Sy doen uitstekende werk.


Dan die ook die raadslede wat ons ondersteun. Baie dankie ook vir julle betrokkenheid.


Ek wil ook vir Hoërskool Stellenberg baie dankie se vir die beskikbaarstelling van hulle fasiliteite vir ons vergadering vanaand, ook die Potjiekos vroeër vanjaar. Die gebruik van hulle fasiliteite is vir ons van onskatbare waarde.


Laaste maar seker die belangrikes, ons lede, dankie aan elk van julle vir jou lidmaatskap en ondersteuning. Ons besef terdeë dat sonder jou betrokkenheid die AHI nie bestaansreg het nie.

Terug na Nuus