Verslag van die Voorsitter van die AHI Tygerberg Sakekamer 2017/18

Shané
30.06.23 08:57 AM Comment(s)

Hiermee ʼn oorsig van die Sakekamer se aktiwiteite die afgelope jaar:

Oorsig


Die afgelope jaar was vir ons suksesvol. Ons dagbestuur sorg dat ons goed funksioneer sodat die bestuursvergaderings se agendas korter is en besluite vinniger geneem kan word. Dit het ook goed ingepas met die werksaamhede van die Admin Beampte, Adri Meadon. Ons is ook nou in ‘n siklus waar ons slegs elke 2de maand ʼn volledige bestuursvergadering hou.


Ten spyte van groot uitdagings met betrekking tot beskikbare tyd van bestuurslede om aan die sake van die kamer te bestee het ons sake goed hanteer en die dagbestuur het werklik die spreekwoordelike wa deur die drif getrek.


Ons ledetal het op rondom 70 gestabiliseer. Ons het verskeie nuwe lede opgeteken maar daar het ook ʼn paar gekanselleer.


Lidmaatskap is definitief meer stabiel met lidmaatskapgelde wat verseker konstant betaal word. Die betrokkenheid van die Admin Beampte om lede hernuwings en die betaling van lidmaatskapgelde op te volg was van onskatbare waarde.


Ons kontantvloei is goed en vir die eerste keer het ons batige banksaldo van meer as R100 000. Die aanpassing/verhoging van ledegeld wat by vorige AJV goedgekeur is werp nou vrugte af.


In die onlangse verlede was ons grootste uitdagings nl:

  • Afname/klein ledetal
  • Gebrek aan fondse en goeie kontantvloei
  • Onvoldoende administratiewe kapasiteit

Ons kan nou rapporteer dat ons ledetal stabiel is terwyl ons kontantvloei goed is ons administrasie vlot verloop.

Mylpale van die afgelope jaar.


Wat het ons die afgelope jaar vermag?

  1. Ons Administratiewe Beampte Adri Meadon is nou gesout in haar taak en ons administrasie verloop vlot. Dankie Adri! Adri is nou meer as 2 jaar by ons en met goedkeuring van die vergadering sal ek vra dat die oorweging van ʼn aanpassing in haar vergoeding op die agenda van ons nuwe bestuur geplaas word.
  2. Ons het ʼn paar baie winsgewende funksies gehou waar die Potjiekos, Brandewynproe en Sake-ete met die Stad Kaapstad ons ‘n goeie hupstoot gegee het. Die opgawe van funksies met wins/verlies per funksie is aangeheg.
  3. Met die hulp van Azapi het ons ons Webtuiste en Facebook bladsy heelwat meer effektief aangewend. Dit hou ons lede op hoogte en help met bemarking na buite.
  4. Die bestuurskomitee lede sit steeds met die uitdaging dat hulle self in professionele beroepe staan of besighede bedryf en dus beperkte tyd het om in die sakekamer te werk. Ten spyte hier van kon ons goeie waarde vir ons lede bied en ons administratiewe pligte byhou.
  5. Die Sake-ete met die Stad Kaapstad is vir die 5 de agtereenvolgende jaar aangebied en ons het weer Nedbank en Ou Mutual as borge betrokke gehad. Ons het vir die eerste keer die “venue” verander en in plaas van by Kuilsrivier Gholfklub, dit by Durbanville Hills Wynlandgoed gehou. Die geleentheid was weereens ʼn groot sukses en ons het baie komplimente van gaste gekry.
  6. Ons Potjiekoskompetisie aangebied by Stellenberg Hoërskool was weer ʼn wenner met groot sukses. Ons het 24 potte ingeskryf gehad en ons het baie positiewe terugvoer daaroor gekry. Dit bly verseker ʼn “fixture” op ons program.
  7. Ons finansiële posisie het aansienlik verbeter en ons toon vir die eerste keer in ʼn lang tyd ʼn aansienlike wins. Die Tesourier sal in sy finansiële verslag die detail hanteer. Ons borge het ʼn groot rol gespeel en wil ek weereens spesifiek vir Nedbank en Old Mutual uitsonder as borge wat ons Sake-ete met die Stad weer ruim geborg het. Dan is daar ook TJ Lekka Braai, Cape Pots, CapiteBank, Laubscher en Hattingh, Bolt Risk Management en Azapi IT Services wat ook deurlopend ʼn bydrae lewer.

Daar was ook ander hoogtepunte maar kom ons volstaan hierby. Dankie, aan ons lede wat die Sakekamer se aktiwiteite ondersteun het en wat die Sakekamer se belange op die hart dra.

Uitdagings


Die AHI Nasionaal het ophou voortbestaan en homself omvorm na die SBI (Small Business Institute) sonder om takke sinvol daaroor te raadpleeg. Die AHI Wes Kaap het ʼn strategiese besluit geneem om te bly voortbestaan as die AHI Weskaap en ons het die besluit gesteun. Dr Willie Cilliers sal later meer detail gee oor waar ons staan en die pad vorentoe.


Die Tygerberg Sakekamer bly dus geaffilieer by die AHI Wes Kaap met ons fokus op ʼn inklusiewe benadering wat nie op Afrikaans per se fokus nie maar eerder op optimale funksionering as ʼn effektiewe sakekamer wat aan lede waarde toevoeg en hulle belange op die hart dra.

Ledetal


Ons ledetal het rondom 70 gestabiliseer en ons het nie ons doelwit van ʼn 100 lede gehaal nie. Die potensiaal in ons omgewing is groot en moet ledegroei bewerkstellig. Dit is ʼn seker uitdaging vir die bestuur in die nuwe jaar.


Ek doen weereens ʼn beroep op almal om asb. aktief by ledewerwing betrokke te raak.

Bestuur


Ek het nou drie volle termyne as voorsitter gedien na ek in 2015 amptelik as voorsitter verkies is. Ek is intussen ook verkies op die AHI Wes Kaap bestuur en dien as direkteur op die direksie van die AHI Wes Kaap. Sover my kennis strek is daar geen nuwe nominasies vir die posisie van Voorsitter en Ondervoorsitter nie. Ek is beskikbaar om nog een termyn te dien en ek verneem die Ondervoorsitter ook. Dit sal weer vra vir ʼn spesiale besluit deur die vergadering om dit te magtig.


Ek is onseker hoeveel tyd ek beskikbaar sal hê om aan die Tygerberg Sakekamer se belange te spandeer.


Ons het nuwe energie in die bestuurskomitee dringend nodig asook opvolg beplanning vir die posisie van voorsitter en ondervoorsitter.


Ek is dankbaar vir die ondersteuning en toewyding van my bestuurspan. Die span is klein en almal is baie besig in hul eie besighede en beroepe maar tog vind hulle die tyd om op die kamer se bestuur te dien.


Hier moet ek die dagbestuur wat bestaan uit George Ferreira, Eben Keet en dan Adri Meadon spesifiek bedank vir hulle volgehoue poging.


Baie dankie vir julle toewyding en opoffering.

Waardeproposisie aan lede


Ons is deeglik bewus dat ons ledetal slegs sal groei as ons ʼn waardeproposisie aan lede bied. Die dinamika wat die AHI Wes Kaap as ʼn amptelike Maatskappy sonder winsoogmerke bring kan ons moontlik hiermee help. Dr Willie Cilliers het groot planne en het reeds ’n klomp werk in die verband gedoen. Hy sal meer lig daarop werp tydens sy aanbieding.

Finansies


Ons toon vir die eerste keer in jare ʼn wins en ons het ʼn batige banksaldo van net oor die R100 000.

Die Tesourier doen volledig verslag.


Sien aangehegte detail finansiële state.

Bedankings


Ek wil graag die Bestuur bedank vir hulle ondersteuning en toewyding.


Ek sou ook graag vir Adri Meadon uitsonder. Sy het haar voete stewig gevind en doen uitstekende werk.


Dan die ook die raadslede wat ons ondersteun. Baie dankie ook vir julle betrokkenheid.


Ek wil ook vir Hoërskool Stellenberg baie dankie se vir die beskikbaarstelling van hulle fasiliteite vir ons vergadering vanaand, ons Brandewynproe en ook vir ons Potjiekos vroeër vanjaar. Die gebruik van hulle fasiliteite is vir ons van onskatbare waarde.


Laaste maar seker die belangrikes, ons lede, dankie aan elk van julle vir jou lidmaatskap en ondersteuning. Ons besef terdeë dat sonder jou betrokkenheid die AHI nie bestaansreg het nie.

Terug na Nuus