TygerPreneur Inligting Brosjure 2017

Louise
29.06.23 01:49 PM Comment(s)

Wie kan voordeel hieruit trek?


Huidige ekonomiese omstandighede maak dit uiters moeilik vir skoolverlaters en ander mense om voltydse betrekkings te bekom en daardeur ’n inkomste te verdien ten einde ’n goeie lewenswyse vir hulself en hul geliefdes te verseker. Na-skoolse onderrig is tans ook baie duur en toegang tot tersiêre instellings moeilik. Sou jy dit kon bekostig, is jy na 3 tot 4 jaar se studie steeds sonder ondervinding en nie verseker daarvan dat jy werk sal kry nie.


Om te begin met ’n eie suksesvolle sake-onderneming kan vir baie mense dus ’n uitweg bied na ’n beter toekoms, deur die neem van eie inisiatief onder leiding van kundiges met uitgebreide kennis en ervaring op hierdie gebied. Hierdie kursus bied ’n bekostigbare alternatief wat jou in ’n relatiewe kort tyd in ’n posisie stel om ’n besigheid te begin en so ’n inkomste te verdien.

WAT BEHELS DIE TYGERPRENEUR OPLEIDINGSPROGRAM?


Die TygerPreneur Opleidingsprogram behels ’n kursus oor die begin en vestiging van ’n eie besigheid. Dit het ten doel om voornemende entrepreneurs van die nodige leiding en vaardighede te voorsien om dit met sukses aan te pak.


Die kursus strek oor tien (10) volle dae (09:00 tot 17:00) en word aangebied deur direkteure van die SA Entrepreneurial Development Hub met etlike jare se praktiese ervaring in opleiding en hulpverlening aan verskeie kleinsake-ondernemers beide in Suid-Afrika en in die buiteland. Die kursus word tweetalig aangebied, in beide Afrikaans en Engels.


Kursusgangers gaan nie net sit en luister nie – daar word van elkeen verwag om aktief deel te neem aan groepbesprekings, gevallestudies en veld-ondersoeke by bestaande besighede in die omgewing. Volledige kursusmateriaal (in Engels) sal voorsien word en dit, tesame met die student se eie aantekeninge tydens die aanbied van die kursus, vorm uiteindelik ’n unieke (persoonlike) handleiding vir toekomstige verwysing.


Die sentrale uitgangspunt van die kursus is die vestiging van ’n winsgewende sakeonderneming, met as eindproduk die samestelling van ’n uitvoerbare plan van aksie deur elke deelnemende student. Suksesvolle kandidate ontvang na aflegging van die kursus ’n bywoningsertifikaat ontvang tydens ’n spesiale gala-funksie.

WAT IS DIE TOELATINGSVEREISTES?

  • Suid Afrikaanse burgerskap
  • Matriek (minimum)
  • ʼn Werkbare kennis van wiskunde
  • Basiese rekenaarvaardigheid en toegang tot ʼn rekenaar
  • Toegang tot internet en e-pos-kommunikasie
  • Beskikbaarheid om elke dag van kursus-aanbieding by te woon
  • ʼn Eie sakrekenaar

’n Voor-toelatingsonderhoud word vereis waartydens ’n kort toets in basiese wiskundige berekenings afgelê sal word.

WAT GAAN DIT KOS?


Die volle kursusfooi beloop R8000, insluitend ’n registrasiefooi van R1500 wat betaalbaar is wanneer aansoek tot deelname aan die kursus goedgekeur is. Die balans van R6500 is betaalbaar een week voor die aanvang van die kursus

Die kursusfooie sluit die volledige kursusmateriaal en -hulpmiddele, ligte middag-etes tydens die kursus, asook verversings (tee/koffie) tydens die aanbieding in.


Dit is verstaanbaar dat nie alle voornemende studente moontlik oor die nodige fondse mag beskik om die volle kursusfooi te bekostig nie. Verdienstelike gevalle kan dus moontlik vir ’n beurs in aanmerking kom (maar dit kan ongelukkig nie gewaarborg word nie). Geliewe op u aansoekvorm aan te dui indien u sodanige hulpverlening benodig.

WAAR WORD DIT AANGEBIED?


Die lokaal waarin die kursus aangebied word, is afhanklik van die getal aansoeke tot toelating en sal later bevestig word, maar dit sal maklik bereikbaar wees. Suksesvolle kandidate sal binnekort hieroor ingelig word.

HOE DOEN EK AANSOEK?

Voltooi asseblief die aangehegte aansoekvorm volledig en stuur dit onverwyld per e-pos aan ons terug, na: startingyourown@gmail.com

U sal dan in kennis gestel word of u aansoek aanvaar is en ’n geskikte datum vir die voor-toelatingsonderhoud waarna verwys is, sal met u afgespreek word.

Terug na Nuus